Endorsements


Kruispaaie – ‘n moet vir elke gemeente!

Kruispaaie is ‘n kursus wat ek met vrymoedigheid kan aanbeveel.
Die kursusmateriaal is goed saamgestel met die notas wat op CD’s beskikbaar is vir die studente, asook “PowerPoint” skyfies wat die aanbieding van die lesse baie vergemaklik. Die uitdeelstukke is baie prakties en volledig en leer ook maklik vir die eksamens.

Kruispaaie 1 dek ‘n geweldige wye spektrum van die grondbeginsels van bekering tot die gevare van evolusie.

Kruispaaie 2 dek onderwerpe soos morele kwessies en leierskap, en leer die student nie net die belangrikheid van verskillende soorte wêreld beskouings nie, maar ook hoe om dit saam te stel.

Die woord van God is sentraal deur die hele kursus en studente leer hoe om Bybelstudie te doen, hoe om te bid en vele meer. As jy die begeerte het om geestelik te groei en die Bybel beter te verstaan, is Kruispaaie die kursus vir jou!

Ps. Lohenn van den Berg
Aanbieder van Kruispaaie
A.G.S. Nuwe Lewe Klerksdorp
0836561097

Chanel Daley

15.11.2010

Wat ‘n voorreg was dit om ‘n eerste jaar student te wees sonder enige ontgroening ! Deeltydse studies is vanselfsprekend moeiliker om by te woon, maar met so ‘n fantastiese groep en leier, kon ‘n mens nie anders as om jou geswelde voetjies van die lang dag se werk vinnig onder die raadsaaltafel weg te steek en jou gees die kans te bied om meer te leer nie.

Die handige CD vol aanbiedinge, vrae en leesstof is besigtig en gebruik tydens stiltetyd, familie-byeenkomste en enige kans by die werk om oor Jesus Christus te praat. In die begin het dit verskriklik geklink, toe die fassiliteerder ons inlig dat ons 70% klasbywoning moet hê om te slaag, terwyl ek so afkyk na hierdie geswelde voetjies, maar soos ons die klasse weekliks begin volg het, kon jy nie wag om die volgende week se klas by te woon om nog meer te leer nie.

Twyfel het ingeskop toe die groot woord EKSAMEN gepaard gaan saam met die kursus. Geleidelik het die jaar aanbeweeg en toe ons, ons oë uitvee is die kursus en twee eksamens agter die rug. Die eksamens het werklik jou kennis getoets en dit het ook bevrediging gebied vir elke individu om seker te maak op watter vlak jy is en waarnatoe jy kan streef.

Met die gebrek aan bybelkennis en ons alledaagse lewe – wat dit nie makliker maak nie – is dit ‘n uitdaging om antwoorde en gesprekke te voer. In hierdie een jaar het ek meer geleer as 10 jaar saam. Ek kan met selfvertroue in ‘n gesprek vrae beantwoord en gesels en mense nader wat net so honger is vir die Ware Woord.

Baie dankie vir hierdie wonderlike geleentheid wat aan elkeen gebied word en dat ons so bevoorreg mag wees om dit by ons plaaslike kerk by te woon. Hierdie kursus is ‘n MOET vir enige individu wat meer wil leer van ons Hemelse Vader – oud of jonk. Met hierdie kursusse kan ons gebrek aan bybelkennis net minder word.